Surprise Me!

YURI DURAAN - x.Hierdie Dag

2014-11-07 16 Dailymotion

Hierdie dag is die dag
wanneer ek sal kan omdraai
en wegstap van jou af.

Hierdie dag is die dag
wanneer ek genoeg klippe sal
hê om jou liefde toe te pak,
genoeg vuur sal hê om dit
te veras om weg te laat
waai in die wind.

Hierdie dag is die dag
wat ek genoeg skulpe sal hê
om ‘n altaar te bou vir dit wat
my lewe volmaak en genoeg
sonneblomme sal hê om oor die
herinneringe te groei en dit te bewaar.

Hierdie dag is die dag
wanneer ek sal kan omdraai
en wegstap van jou af,
die dag wanneer ek genoeg trane
sal hê om jou van my af te was
en genoeg troos sal vind om
my weer heel te maak...

dis net....

hierdie dag het ek klaar die
son sien opkom en gaan lê in
jou oë en het ek klaar die wind
en reën hoor woed in jou stem...

ek het klaar myself verloor op
pad na die omdraai en verdwaal
voor die wegstap...

so hierdie dag sal ek weereens
terugkeer na my hart en jou inlaat
en die deur toemaak teen alles
wat jou nie betrek nie...

ek sal jou koester en vasketting
in my binnekamers en onthou...

hierdie dag sal ek onthou.

YURI DURAAN

http://www.poemhunter.com/poem/x-hierdie-dag/